Goeie bywoning van netwerkaand

OUDTSHOORN NUUS –  Meer as 80 gaste het Donderdagaand, 28 Mei, in ’n markiestent op Laerskool Wesbank se sportterrein aangesit vir ete met Oudtshoorn-besigheidskamer se maandelikse netwerkaand. 

Die aand is geborg deur Jakhals Events wat as deel van die bekendstelling van hul dienste die markiestent opgeslaan het.

Die besigheidskamer se netwerkaand word tien keer per jaar aangebied en word ook gereeld deur sakelui uit omliggende dorpe bygewoon. 

Tydens Donderdagaand se funksie het Abri Ferreira, voorsitter van die besigheidskamer, vir Hans van der Veen gelukgewens met sy Kanna-toekenning vir sy jare lange bydrae tot die KKNK as feesfotograaf. 

Ferreira het ook die nuus gedeel dat die grottepad wat tans as gevolg van ’n rotsstorting gesluit is, nie onbepaald gesluit sal wees nie, maar moontlik binne enkele weke weer oop sal wees. 

“Die provinsiale departement van infrastruktuur het die versekering gegee dat die opening van die pad ’n prioriteit is. Spanne is reeds besig om die rotswand bokant die pad te beveilig en los rotse te verwyder sodat staalnette aangebring kan word. Sodra die veiligheidsnette in plek is, sal daar met opruiming van die pad begin word,” het hy gesê. 

Hy het ook die versekering gegee dat die besigheidskamer op hoogte bly met vordering aan die pad aangesien dit tans ’n geweldige negatiewe impak op toerisme het.

Mari-Lu Roller van Oudtshoorn Rotariërs is ook geleentheid gegun om ’n groot Rotariër-projek wat hulle aanpak aan die gaste voor te hou. 

Die projek beoog om noodsaaklike terapeutiese dienste vir leerders by Eljada-Kairos se junior en senior kampusse meer toeganklik te maak. Sy het besighede genooi om by die projek betrokke te raak. Teen die einde van die aand het twee plaaslike besighede reeds R20 000 vir die projek bewillig. 

Die besigheidskamer se netwerkaande word op die laaste Donderdag van elke maand aangebied. vir enige inligting kontak Helen Butler by business@odnchamber.co.za 

https://www.oudtshoorncourant.com/News/Article/Local-News/goeie-bywoning-van-netwerkaand-202606020129

Scroll to Top